.....toe sink Petrus.....


Dis voor dagbreek. Tussen drie en ses die oggend. Plek - die heilige See van Galilea. Omstandighede - ‘n see gevul met beproewinge. Die dissipels - ontbloot en bang. Vasgevang in ‘n skuit op ‘n oop see. Kwesbaar en deurdrenk met twyfel en vrees. Hulpeloos.

Die donkerte, wat die dissipels se benoudheid voed en die golwe wat onophoudelik teister met winde van voor, maak twyfel hul baas en geloof klaas. ‘n Onbekende figuur opmerklik sigbaar op die horison beweeg al nader oor die verruklike see. Die visuele ontmoeting met hierdie figuur kweek angs en hierdie angs lok histerie en kort voor lank ontsnap benoude gille en skreeu: “Dis ‘n spook!”. En met een skreeu is geloof oorboord, hoop op die bodem en al wat oorbly is ‘n skuit, in die ope see op pad om te sink.....bemanning en al.

My eie oksipitale Hollywood weergawe van Matteus 14 met ‘n amperse Titanic “twist”. ‘n Vertelling van die dag toe twyfel geloof vervang het. ‘n Halwe weergawe van wat kón gewees het as die onbekende figuur rêrig onbekend was in hierdie bekende verhaal. Maar my vertelling is fiksie. En my einde die absolute teenoorgestelde van wat werklik gebeur het op daardie oggend van die storm. Die oggend waar twyfel klaas gemaak is en geloof soos ‘n baas uitgestap het.

‘n Verhaal wat alles en meer as die waarheid is en waaroor daar al eeue lank gepraat word. ‘n Verhaal oor die storms van die lewe en sy onbekende dinge wat jou óók kan los met “gille” van angs en vrees. Maar kom ons keer terug na daardie oggend...

Dis voor dagbreek. Tussen drie en ses die oggend. Plek - die heilige See van Galilea. Omstandighede - ‘n see gevul met beproewinge. Die dissipels - ontbloot en bang. Vasgevang in ‘n skuit op ‘n oop see. Kwesbaar en deurdrenk met twyfel en vrees. Hulpeloos.

Emosioneel verskrik en bitter benoud sien die dissipels ‘n onbekende figuur van vooraf aankom; Van angs het hulle hard begin skreeu: “Dis ‘n spook!” [Matteus 14:26 AFR83]. Die dissipels is deurdring met emosies. Twyfel en vrees drup van hulle af! Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” [Matteus 14:27 AFR83]. Die skuit het nie gesink nie. Die bemanning het oorleef. Jesus was daar.

“Jesus was quick to comfort them” sê The Message. Hy was vinnig vertroostend. Hierdie eens vreesaanjaende onbekende figuur wat soveel angs en paniek ontlok het kom in en dadelik bemoedig Hy. En net daar en dan op die onstuimige waters tussen al die stormagtigheid, vind hulle veiligheid. Sekuriteit in die middel van die storm. ‘n Waarborg wat enige storm kan maak twyfel en stilstand bring tot golwe wat teister.

Maar hierdie waarborg verg aandurf en Petrus was die enigste een in die boot bereid om in geloof op te tree. En met ‘n impulsiewe versoek sê hy; “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom” [Matteus 4:28 AFR83]. En Jesus beveel hom toe en sê “Kom!”. In die middel van die storm op bevel van Jesus het Petrus toe oor die kant van die skuit geklim. Sy oog en vertroue gevestig op Jesus, het hy een voet voor die ander begin sit en op die water begin loop. Golwe teisterend. Winde onveranderd.

En net daar op die oop see van Galilea waar die storm en “spook” vroeër die dissipels se geloof maak wankel het en hoop oorboord gejaag het, openbaar Jesus God se almag. En vir ‘n oomblik dink ek het tyd stil gestaan. Wapens was neergelê tussen mens en storm. Angs en twyfel is hok geslaan en al wat gehoor kon word was die voetstappe van ‘n gelowige!

.... toe sink Petrus...

“Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink...” [Matteus 14:30 AFR83]. Petrus was bekreun! Sy bewuswording van sy omringende omstandighede het hom uit die stilte geruk. Sy fokus en vertroue op die Een wat hom oorspronklik beveel het om oor die rand van die skuit te klim het letterlik in ‘n oogwink verskuif. En binne sekondes het sy omstandighede weer baas geword en sy geloof weer klaas.

Hy het begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”. Onvas in sy geloof in ‘n oomblik van swakheid het hy begin twyfel en vrees. En net daar en dan op die see van Galilea het Petrus sy storm - sy “spook” - weer groter gemaak as die Een wat hom beveel het om vroeër te kom. Maar “dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel? Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.” [Matteus 14:31-33 AFR83]

Die lewe daar buite is soos die see van Galilea. Vol beproewinge, vol uitdagings en vol twyfel. En soms is dit half amper onmoontlik om jouself in Petrus se posisie in te dink. Die posisie waar jy ‘n “leap of faith” oor die rand van jou lewens-skuit moet neem sodat jy jouself op waters van rus kan bevind met standvastige geloofs-voetstappe en jou oog op Jesus.

Jesus se teenwoordigheid in hierdie spesifieke verhaal tydens die storm was onmisbaar máár was gesien as ‘n “spook”. ‘n Angswekkende verskyning tydens ‘n nagtelike worsteling. En soms is dit ondenkbaar om eens te begin dink dat jy God se stem kan of gaan hoor in enige storm. Daardie stem wat sê “Kom!”. Want in elke storm leef angs en so ook twyfel. Maar in elke storm bestaan daar ook toevlug. ‘n Skuilplek by God. Wat twyfel kan klaas maak en geloof weer baas. Want Sy nabyheid in hierdie storms is daar. Sy aangesig bestaan.

Dawid beskryf God vir my so prentjieagtig in Psalm 46 waar hy dig;

“God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help. Daarom sal ons nie bang wees nie, al bewe die aarde, al verskuif die berge in die see; al bruis en skuim die waters, al skud die berge as die waters styg!” [Psalm 46:2-4 NLV].

Jesus het dadelik Sy hand uitgesteek en Petrus gegryp. Toe Petrus roep “Here, red my!” het Jesus nie gewag tot Petrus halfpad verdrink of versmorend eers begin snak na sy asem nie. Hy’t nie gewag om te sien of Petrus eers ‘n les gaan leer nie! Nee! Hy het dádelik sy hand gegryp. ‘n Daadliewende daad. Een wat jou eintlik bewoë maak.

Hierdie is ‘n verhaal waaroor daar al eeue lank gepraat word. ‘n Verhaal waar God sy krag deur ‘n storm geopenbaar het en twyfel klaas gemaak het met geloof as sy baas. So kom ons keer vir ‘n laaste keer weer terug na daardie oggend.....

Dis voor dagbreek. Tussen drie en ses die oggend. Plek - die heilige See van Galilea. Omstandighede - ‘n see gevul met beproewinge. Die dissipels - ontbloot en bang. Vasgevang in ‘n skuit op ‘n oop see. Hulle voel kwesbaar en is deurdrenk met twyfel en vrees. Maar tog nie alleen nie want: “Ek maak die donkerte voor hulle helder lig, en die ongelyk plekke maak Ek gelyk. Ek gaan dit alles doen, en hulle nie alleen los nie!” [Jesaja 42:16 NLV]

Comments